Drie Weke Oud - [19 April 2005 18:12]

drie weke oud

en klaar seergekry

bang gewees

en honger gely

maar meer as dit -

want ‘n groot growwe man het haar

 

raakgesien

met sy groot growwe hande haar

opgetel

huis toe geneem

gewys vir sy vrou en haar

warm gehou

die volgende dag rond begin ry

met sy groot growwe lôrrie

‘n veearts gekry

maar meer as dit -

‘n voëlspesialis

iemand wat omgee en

voëlvriendelik is

hy’t haar beentjie gespalk en

raad gegee

op ‘n besige oggend sy

tyd gegee

 

drie weke oud

en wêreldwys:

sy’t die liefde gesien

van mens teenoor dier

nee, veel meer as dit -

van ‘n groot growwe man

met die fynste kultuur

 

 

 
Printed via the content management system