Common ground
Vir Emsie Mohr
Die fiskaallaksman skree deurdringend dun
uit die rand van sy wye grondgebied
van voorstedelike tuine en vlieg
na die wag-ʼn-bietjie voor die venster.
Die vrou kom uit die huis waar Paul Winter
se boggelrugwalvisse lonkend sing
vir voëls in koue, in toe skoendose,
op hittekussings en out T-hemde.
Sy klap die voordeur en roep: “Wáár is jy?”
Stap die tuin binne waar die walvislied
saam met koel sproeireën oor die blare sif.
Die fiskaal sirkel af uit die toppe,
sak fladder-fladder van tak tot tak af,
deur die vlinderspel van blare af, af
deur die koeltes tot by die meelbakkie
en pik die geelwit wurms gulsig op.
< Back
|